Wie is Diens van Barmhartigheid?

Die Bediening / Kommissie Diens van Barmhartigheid (DvB) se motto /leuse word saamgevat in die woord DIENS. Hierdie woord se vyf letters stippel die uitgangspunt van DvB baie duidelik uit.

  1. Die letter D dui aan dat die DvB daar is om dienste in, en aan die gemeenskap te lewer. Die bediening word geken aan DADE. Dink aan die voedselprogramme by Wierdapark Laerskool en Walter Sisulu Primary. By die twee skole is ons verantwoordelik dat meer as 100 kinders weekliks kos kry. Daarby was die gemeente betrokke by leerlinge wat oog en tandversorging gekry het.
  2. Die letter I dui aan dat die DvB aan die Individu se behoeftes aandag gee. Die beste voorbeelde is die KIS Projek waar individue kos kry by die Gemeente. Voeg ook die Alimentasie aansoeke by. Hier kry gesinne dikwels hulp, maar ons help ook baie individue om hulp by professionele persone te kry. Kerk-in-Suid se toegewyde Pastorale werk is ook nog ‘n uitstekende voorbeeld.
  3. Die letter E dui aan dat die DvB poog om kinders te help om erkenning in hul omgewing te kry. Hier dink ons aan Jakaranda Kinderhuis waar ons nie net kos voorsien nie, maar ook daardie jeugdiges help om daar waar hulle is, dmv skenkings van skoolklere en matriekafskeidrokke, hul selfbeeld op te bou.
  4. Die DvB slaan liefde vir die Naaste baie hoog aan. Hier dink ons spesifiek aan die Kansaprojek wat daarna streef om mense bewus te maak van kankerlyers se probleme en sodoende ons liefde vir die naaste te onderstreep. Voeg ook hierby die gebedsgroep wat voortdurend in die bres tree by die Hemelse Vader vir hul naaste.
  5. Die letter S dui aan dat die DvB by die totale samelewing betrokke is. Voorbeelde is die groenteprojek wat weekliks groente aan lede van die samelewing versprei of ons reik uit na mense wat in ander streke swaar getref is deur natuurrampe.

Die figuur hier onder beeld uit die betrokkenheid van Diens van Barmhartigheid (DvB).

Hier volg nou meer besonderhede oor elke kommissie.

Alimentasie

Ons gemeente het die afgelope jaar opnuut bewus geword van die nood wat al groter word in ons gemeenskappe. Dit is vir ons van uiterste belang om hulp aan te bied waar dit regtig benodig word en daarom word elke aanmelding ge-evalueer en op meriete hanteer. Ons poog om elke behoefte aan te spreek en deur middel van korttermyn intervensie eerder te soek na langtermyn oplossings.

Pastorale bediening

Dis werklik ‘n voorreg om saam met die voltydse leraars en kantoor personeel uit te reik na mense wat siek, geopereer, in hospitale opgeneem is en langtermyn behandeling ontvang. Dis werklik ‘n riem onder die hart om die mense se positiewe gesindheid en blymoedigheid te beleef wanneer hulle besoek word. Hulle spreek net hulle dankbaarheid uit vir elke besoek, telefoonoproep en geskenkie wat hulle ontvang. 

KANSA in Suid

Elka jaar bied Kerk-in-Suid ‘n KANSA tee aan ten bate van kankerlyers. Die fondse wat ingevoer word, word verdeel tussen KANSA en Hospice. Nagenoeg 160 mense woon hierdie funksie elke jaar by. Elke jaar word daar ‘n gasspreker uitgenooi on die mense te inspireer.

Jakaranda Kinderhuis

Jakaranda Kinderhuis (JKH) is ‘n nie-winsgewende organisasie wat kyk na die belange van minderbevoorregte kinders. Kerk-in-Suid kyk na Huis 9 en sluit die volgende verantwoordelikhede in:

Vorder elke maand ‘n inkopielys in van die dagmoeder by die kinderhuis en handig dit in by die kerk kantoor. Hierna word die benodighede aangekoop en geneem na Jakaranda Kinderhuis. Koop verjaarsdag geskenke vir die kinders en twee keer ‘n jaar word skoolklere aangekoop.