Hier volg nou meer besonderhede oor elke kommissie.
Alimentasie
Ons gemeente het die afgelope jaar opnuut bewus geword van die nood wat al groter word in ons gemeenskappe. Dit is vir ons van uiterste belang om hulp aan te bied waar dit regtig benodig word en daarom word elke aanmelding ge-evalueer en op meriete hanteer. Ons poog om elke behoefte aan te spreek en deur middel van korttermyn intervensie eerder te soek na langtermyn oplossings.
Pastorale bediening
Dis werklik ‘n voorreg om saam met die voltydse leraars en kantoor personeel uit te reik na mense wat siek, geopereer, in hospitale opgeneem is en langtermyn behandeling ontvang. Dis werklik ‘n riem onder die hart om die mense se positiewe gesindheid en blymoedigheid te beleef wanneer hulle besoek word. Hulle spreek net hulle dankbaarheid uit vir elke besoek, telefoonoproep en geskenkie wat hulle ontvang.
KANSA in Suid
Elka jaar bied Kerk-in-Suid ‘n KANSA tee aan ten bate van kankerlyers. Die fondse wat ingevoer word, word verdeel tussen KANSA en Hospice. Nagenoeg 160 mense woon hierdie funksie elke jaar by. Elke jaar word daar ‘n gasspreker uitgenooi on die mense te inspireer.
Jakaranda Kinderhuis
Jakaranda Kinderhuis (JKH) is ‘n nie-winsgewende organisasie wat kyk na die belange van minderbevoorregte kinders. Kerk-in-Suid kyk na Huis 9 en sluit die volgende verantwoordelikhede in:
Vorder elke maand ‘n inkopielys in van die dagmoeder by die kinderhuis en handig dit in by die kerk kantoor. Hierna word die benodighede aangekoop en geneem na Jakaranda Kinderhuis. Koop verjaarsdag geskenke vir die kinders en twee keer ‘n jaar word skoolklere aangekoop.